Hoe om 'n boek te publiseer

Ons verlang van skrywers om ‘n boekvoorstel aan ons voor te lê, alvorens volledige manuskripte ingestuur word.

Hierdie riglyne is ontwikkel om jou te help om ‘n boekvoorstel voor te berei, met die nodige inligting wat ons in staat sal stel om te bepaal of u konsep inpas by ons publikasiestrategie.

RIGLYNE VIR BOEKVOORSTELLE

'n Volledige boekvoorstel bestaan uit die volgende elemente:

  • 'n Inleiding waarin u motiveer wat die doel van die boek is en wat u beoog om met die boek te bereik. (Waarom het u die boek geskryf?)
  • 'n Inhoudsopgawe waarin u kortliks aandui waaroor elke hoofstuk of afdeling handel.
  • Een volledige hoofstuk.
  • 'n Omskrywing en beskrywing van die teikenmark. Wees so volledig as moontlik.
  • U beraming van die grootte van die teikenmark.
  • Waar u dink die eindverbruiker die boek sal aankoop (wees asseblief so volledig as moontlik wanneer u die winkels en verkoopskanale lys).
  • Wat dink u sal die ideale kleinhandelsprys vir die boek wees?
  • Deel assebief met ons u siening van die mark soos dit huidiglik daar uitsien. Lys boeke soortgelyk aan u konsep, wat reeds in die handel beskikbaar is. Beskryf asseblief wat u boek uniek maak, en hoe u boek verskil van die wat reeds beskikbaar is.
  • 'n Beskrywing van u agtergrond en enige kerk of dogmatiese verband (met ander woorde, wat glo u?).
     

DIE PROSES

Ons evalueer u boekvoorstel deeglik en versoek gewoonlik dat u die volledige manuskrip aan ons voorlê indien die konsep in lyn is met die publikasiebeleid hier by Lux Verbi. Neem asseblief kennis dat ons geen manuskripte in ontvangs neem voordat ons 'n volledige boekvoorstel ontvang het nie. Dikwels word selfs manuskripte van hoogstaande gehalte afgekeur, bloot omdat ons publikasieprogram vir die volgende periode reeds vol is, of omdat die manuskrip nie inpas by ons huidige publikasiestrategie nie. Ons publiseer byvoorbeeld geen poësie/gedigte nie.
 
HOE DIE PUBLIKASIEBESLUIT GENEEM WORD

  • Indien ons van mening is dat u voorstel in pas is met ons strategie, sal ons u versoek om 'n volledige manuskrip in te dien. Ons stuur die materiaal uit na medewerkers wat die materiaal evalueer. (Skrywers en evalueerders bly anoniem.)
  • Indien nodig ondersoek ons die marksegment en kyk ons na moontlike mededingers, inlsuitende die wat u aangedui het.
  • Ons doen 'n kosteberaming vir die projek.
  • 'n Besluit word geneem op grond van die evaluering van die materiaal, die grootte van die mark en die lewensvatbaarheid van die boek teen ‘n billike prys.
  • Die belsuitnemingsproses kan tot ses maande neem, afhangende van hoe vinnig ons medewerkers terugvoering gee.

U kan u boekvoorstel aan ons pos. Merk dit vir die aandag van Engela Reinke by Lux Verbi, Posbus 551, Kaapstad, 8000

Stuur asseblief ‘n afskrif en nie die oorspronklike materiaal nie. Ons kan geen aanspreeklikheid aanvaar vir verlore materiaal nie. Ons stuur ook nie afgekeurde materiaal terug nie.